Friday 23 October 2015

TERUG IN BURKINA FASO NA 4 JAAR.

DAG 13:

Ons vertrek 10am eers nadat ons gaan kyk het na die erf wat gekoop is vir die nuwe kerk. Daar is baie min Christene in Bamako en hierdie,  glo almal sal 'n ligpunt en groot oop deur vir die stad en land word. 



Die voertuie word volgemaak en met die wegtrekslag voel Peter die kombi se stuurmeganisme is foutief. 

Ons kry 'n herstelplek so eg Afrika!



Raymond spring in en word saam vuil:


Een van die stampe het die kragstuurolie laat uitlek en die manne maak planne. 
Ons vertrek eers 13:15 uit Bamako en ons 2 besef dat ons moontlik nie meer ons vlugte in Niaymey Vrydag gaan maak nie. 

Die Suide van Mali is anders, meer vrede, groen velde en duisende mangobome!! 



Net na 18:30 stop ons by pastoor Solamon se huis om hoender en pap te eet wat sy vrou gemaak het. Almal weet hierdie gaan ons baie laat maak maar hulle het die hele dag gewag van klein tot groot. 


Ons kom na 21:00 by die grenspos en hulle is eintlik toe. Die manne kyk sokker en sit om die vuur terwyl hulle deur ons paspoorte probeer loer met 'n selfoonflitsie. Drie van ons moet visas kry en dit is net 'n wonderwerk dat alles gebeur sonder probleme of sonder dat ons net daar moet slaap soos soms gebeur. 

Daar was 'n staatsgreep hier in Burkina Faso 'n maand gelede met gevolg dat die militêre teenwoordigheid baie sigbaar is. Sodra hulle al ons papiere sien en gelukkig is dat ons net deur die land ry is hulle rustig. 

Ons soek baie lank vir blyplek en kom uiteindelik by "iets". Dit is eintlik skokkend as jy sien wat hulle vra vir 'n slaapplek en hoe min jy daarvoor kry. My kamer het skaars water maar genadiglik werk die lugverkoeling. 

Almal besef dat ons 'n dag verloor en ek en Raymond sal ons vlugte moet verander. Daar is geen opsies Saterdag uit Niamey nie en ons sal die laaste 700km tot in Niger nie kan doen nie. Die ander manne het meer tyd en ons glo hulle sal die Nissan Patrol kan aflewer by sy nuwe eienaar, Aftikos Mamate. 

Môre net 350km na Ouagadougo en ons is baie dankbaar! Baie dankbaar. 

Psalms 146:10
Die Here is vir ewig Koning; jou God, o Sion, is van geslag tot geslag!Halleluja!


No comments:

Post a Comment